Skip to main content
Nege Punte

Nege Punte

249 signatures 1 to reach 250
P
Pierre H. signed
B
Brian C. signed
S
Someone signed
G
Gerald G. signed
L
Lynette P. signed
F
Frederik d. signed
A
anton r. signed
C
Charlotte P. signed
H
Helena signed
J
Jolanda H. signed
LG
Started by Liela Groenewald 10 years, 8 months ago

November 2015

P/A Mnr Johann Aspeling
Die Registrateur
Stellenbosch Universiteit

Beste Prof Wim de Villers, lede van die senaat, en lede van die raad van Stellenbosch Universiteit

IN SAKE: NEGE PUNTE VIR OORWEGING DEUR DIE REKTOR, SENAAT EN RAAD VAN STELLENBOSCH UNIVERSITEIT

Ons, die ondergetekendes, is nie almal Afrikaanssprekend, oud-Maties, gegradueerdes, geskooldes, ongeletterdes, wit, bruin of swart nie, maar ons gesamentlike vertrekpunt is dat dit ‘n wesentlike skande is dat Stellenbosch Universiteit meer as twintig jaar na die einde van amptelike apartheid sy verantwoordelikheid versuim het en min vordering met betrekking tot inklusiwiteit gemaak het. As Suid-Afrikaners het ons belang daarby dat hierdie stand van sake verander. Ons vra Stellenbosch Universiteit om die voortou te neem met progressiewe transformasie, eerder as om die populisties gemaklike uitweg te kies. Ons stel die volgende punte voor:

  1. Stellenbosch Universiteit behoort hom voortdurend te beywer vir die behoorlike befondsing van onderwys en opleiding in die algemeen, maar spesifiek van hoër onderwys, deur die staat. In hierdie opsigte behoort die universiteit hom by die landswye #FeesMustFall beweging te skaar.
  2. Alle subgekontrakteerde werkers wat vir meer as drie jaar voltyds by die universiteit werk behoort binne een jaar vanaf hierdie vergadering direk deur die universiteit in diens geneem te word, sodat die gemeenskap wat die universiteit dien ook daarna kan uitsien dat hulle kinders sal kan studeer, en sodat hulle self toegang sal hê tot mediese dienste en pensioenfondse.
  3. Alhoewel die staat verantwoordelik gehou moet word vir die voldoende befondsing van hoër onderwys, behoort Stellenbosch Universiteit ook self met rolspelers in die sakewêreld te onderhandel om so veel as moontlik beurse beskikbaar te stel. Toegang tot Stellenbosch Universiteit behoort bepaal te word deur ‘n voornemende student se akademiese meriete eerder as deur haar klasposisie. #FooieMoetVal
  4. Stellenbosch Universiteit is die openbare instelling met die sterkste magsposisie om verandering in Afrikaanse gemeenskappe mee te bring en behoort nou, na heelwat versuim, ‘n verskil te maak aan die uitsluiting by hoër onderwys van Afrikaanse bruin- of swartmense.
  5. ‘n Beursfonds vir arm Afrikaanse studente, veral die wat bruin of swart is, behoort op die been gebring te word, en behoort baat te vind by ‘n gedrewe en volgehoue fondsinsamelingsprojek, sodat dit ‘n daadwerklike verskil kan maak aan die demografie van die studentekorps en aan die moontlikhede vir opwaartse klassemobiliteit in gemeenskappe van byvoorbeeld die Boland, die Kaapse Vlakte, die Overberg, die Karoo, en die Noord- en Oos-Kaap.
  6. Stellenbosch Universiteit behoort ook self – moontlik deur middel van sy Fakulteit Opvoedkunde - ondersteuning te bied aan arm Afrikaanse skole en hul leerlinge met die doel om die proporsie van bruin leerlinge wat universiteitstoelating behaal te verhoog.
  7. Stellenbosch Universiteit behoort sy personeelkorps meer divers en verteenwoordigend te maak.
  8. Waarookal dit mag kort, moet uitstekende akademiese ondersteuning, ook wat betref taal, dringend in plek gestel word.
  9. Alle voorgraadse vakrigtings behoort in Afrikaans beskikbaar te wees en te bly.

Ons maak ook die volgende opmerkings wat betref die laaste punt, wat deur die onlangse verklaring van die rektor se bestuurspan genoodsaak word:

Ons ondersteun ‘n meertalige demokrasie met plek vir diverse individue en kultuurgemeenskappe. Gegewe die geskiedenis van taalonderdrukking, behoort die staat aktief pogings aan te wend en te ondersteun om die gebruik van inheemse tale – insluitend Afrikaans – uit te bou. Stellenbosch Universiteit sou met sy eeulange ervaring van die uitbou van ‘n akademiese taal nou ondersteuning kon bied aan die Universiteit van die Vrystaat om seSotho uit te bou, die University of KwaZulu-Natal om isiZulu uit te bou, en die Noord-Wes Universiteit om seTswana uit te bou, en ‘n belangrike rol kon speel daarin om die konstitusionele ideale van meertaligheid te help verwesenlik.

In die geval van Stellenbosch Universiteit dui die onlangse verklaring wat betref die taalbeleid op die onderskraging van ‘n apartheidkonstruk van Afrikaans en haar mense. Ons verwerp hierdie eensydige idee van Afrikaans, om die redes hieronder[1]:

- Afrikaans is die eerste taal van meer as 13 per sent van Suid-Afrika se bevolking (StatsSA 2012: 25). Dit maak dit die derdegrootste eerste of moedertaal in Suid-Afrika, na isiZulu en isiXhosa, en aansienlik meer verspreid as Engels, wat die eerste taal van minder as 5 miljoen Suid-Afrikaners is, of minder as tien per sent van die bevolking (StatsSA 2012: 25-26). Tweedetaal sprekers is bykomend tot hierdie getalle.

- Afrikaans het ‘n meerderheid van swart of bruin sprekers. Meer as 60 per sent van witmense praat Afrikaans as eerste taal, maar ten tyde van die 2011 sensus, was slegs sowat 2,7 miljoen van die bykans 7 miljoen sprekers van Afrikaans as eerste taal wit (StatsSA 2012: 26).

- Die skuld vir die mate van uitsluiting van Afrikaanse bruin- of swartmense van hoër onderwys in Suid-Afrika kan nie voor die deur van ‘n taal gelê word nie. Stellenbosch Universiteit het hom in die verlede aktief skuldig gemaak aan die uitsluiting van Afrikaanse bruinmense. Die speelveld van Afrikaanse laerskole en hoërskole is nog uiters ongelyk – ‘n probleem wat die universiteit en sy Fakulteit Opvoedkunde sou kon aanspreek. Stellenbosch Universiteit het ook onder die demokratiese bestel sy verantwoordelikheid versaak om alle Afrikaanssprekendes by te staan om op grond van akademiese meriete toegang tot hoër onderwys te kry. Die voorgestelde veranderinge aan die taalbeleid sou die 150-jaarlange geskiedenis van uitsluiting volbring.

- Die akademie kan sekerlik slegs verryk word deur die insluiting van ‘n diverse reeks perspektiewe en tale. Inklusiwiteit in alle opsigte kan wetenskaplike standaarde bevorder.

- Nie elke persoon wat aan ‘n universiteit gaan studeer hoef aan wêrelddebatte deel te neem nie. Sommiges wil met studies ‘n aanvanklike breuk maak met ‘n geskiedenis van armoede.

Daarom rig ons hierdie versoek aan u, Prof Wim de Villiers, die lede van die senaat, en die lede van die raad, met betrekking tot die nege punte hierbo.

[1] Statistiek word aangehaal uit hierdie bron:

StatsSA (Statistics South Africa). 2012. ‘Census in Brief’. Pretoria: Statistics South Africa. Op 18 November 2015 afgelaai by http://www.statssa.gov.za/census/census_2011/census_products/Census_2011_Census_in_brief.pdf.

Updates

Reached 250 supporters

December 3, 2015

Reached 100 supporters

November 22, 2015

50 Comments

R
Rita Swanepoel
10 years ago Featured

As akademiese personeellid aan die NWU steun ek hierdie petisie in meelewing met die genoemde sentimente genoem in die nege punte. Prof. Rita Swanepoel. Fakulteit Lettere en Wysbegeerte.

M
Maria Snyman
10 years ago Featured

Ek hou veral van die punt oor die feit dat "nie elke persoon wat aan ‘n universiteit gaan studeer hoef aan wêrelddebatte deel te neem nie. Sommiges wil met studies ‘n aanvanklike breuk maak met ‘n geskiedenis van armoede [en hul kennis terugploeg in hul onmiddelike gemeenskap waar dit broodnodig is]."

D
Danie Marais
10 years ago Featured

Ek ondersteun 'n inisiatief wat sowel meertaligheid as inklusiwiteit en bemagtiging daadwerklik by en deur die Universiteit Stellenbosch bevorder ten volle.

B
Basil Cupido
10 years ago Featured

My family was relocated from land on which the University was built, en ek vra dat julle die gemeenskap van my voorvaders vir 'n slag tegemoetkom.

M
Marie Luyt
10 years ago Featured

Soos Neville Alexander aangedui het, word die demokrasie alleen bevorder wanneer daar voorsiening gemaak word vir taaldiversiteit.

J
Joan Kruger
10 years ago Featured

Uiteindelik! 'n Gebalanseerde siening. Laat die SU erken hulle het daardie gemeenskappe wat hulle die nodigste gehad het - bruin, wit, swart - met elitistiese hooghartigheid oor baie jare in die steek gelaat. Daar is baie werk om te doen om daardie verwaarlosing reg te stel.

P
Pierre-Marie Finkelstein
10 years ago

Beste Liela Groenewald Ek verkeer onder die indruk dat die petisie nie genoeg sigbaar is nie. Vriendelike groete Pierre-Marie Finkelstein

L
Liela Groenewald · petition starter
10 years ago

E-mail exchange for the record: Geagte Me Groenewald Baie dankie vir u e-pos. Die Rektorskantoor het daarvan kennis geneem. Ek sien u het reeds [email protected] by u epos ingesluit. Van daar sal kommentare gekonsolideer word as insette wanneer die formele prosesse vir taalbeleidsaanpassing weer begin. Groete Wildré Kok (Ms/Me) Persoonlike Assistent: Rektor & Visekanselier Personal Assistant: Rector & Vice-Chancellor Universiteit Stellenbosch My reply: Beste Kok Baie dankie vir hierdie terugvoer. Ek sal dit baie waardeer as hierdie dokument saam met ander standpunte oor die taalbeleid oorweeg word, aangesien die negende voorgestelde punt wel spesifiek op die taalbeleid betrekking het. Ek en die ander ondertekenaars van hierdie ope brief het egter 'n belang het by veel meer diepgaande verandering by en deur Stellenbosch Universiteit as bloot wat betref taalbeleid. (Die brief dui ook op 'n spesifieke verantwoordelikheid teenoor die bruin/swart Afrikaanse gemeenskappe wat tot so 'n groot mate uitgesluit is van hoër onderrig in Suid-Afrika.) Die brief is reeds onderteken deur sowat 245 mense, wat insluit Breyten Breytenbach, Willem Boshoff, Nathan Trantaal, Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Anton Goosen, Tertius Kapp, Rian Malan, John Miles, Kirby van der Merwe, Prof Scarlett Cornelissen, Prof Joan Hambidge, Prof Rudie Botha, Dr Sonja Loots, my musiekvennoot Mervin Williams, en heelwat gewone mense, ook dié wat arm en selfs ongeskoold is, maar tog drome droom vir hulle kinders. As die skrywer van die brief, wat ander mense gevra het om die persoonlike risiko te neem om hierdie skrywe openlik te ondersteun, het ek die verantwoordelikheid om te vra dat dit behoorlik oorweeg word. Om hierdie rede het ek Mnr Aspeling as registrateur formeel versoek om die brief aan die senaat en die raad voor te lê vir hulle oorweging. Ek sal in die verband met Mnr Aspeling opvolg. Dit is 'n baie druk tyd. Weereens baie dankie vir die persoonlike terugvo

Help this petition grow

Share it with friends to help reach 250 signatures.

Sign Petition

We never post to your account. Social sign-in is used only to verify your signature.

or sign with Email

Add a comment?

Your signature will be added via . Tell others why you're signing — it's optional.

By signing, you accept iPetitions Terms of Service and Privacy Policy.

Share Petition

Don't stop at signing, share the petition link with friends to multiply our impact

Copy link or share directly

Instagram
QR Code