The petition
Liewe vriend in Jesus Christus.
Hierdie is 'n ope brief aan die NG Kerk in Suid-Afrika. Baie van julle wat hierdie brief lees het soos ons in die NG Kerk groot geword of is al jare lank lidmate van die NG kerk in Suid-Afrika. Dit is te danke aan die NG Kerk dat ons 'n goeie fondasie en opvoeding, gebaseer op Bybelse lering gekry het.
Dit is 'n redelike lang brief, maar ons vra jou om dit asseblief tot die einde deur te lees, want dit raak ons almal direk en dit is 'n baie ernstige saak.
Die NG Kerk was vir baie mense in die verlede, 'n huisvesting, maar oor die afgelope paar jaar het dinge verander, die NG Kerk het homself begin skuldig maak aan leringe wat nie met die Bybel versoenbaar is nie. Dit is stadig infaseer tot so 'n mate dat meeste van ons die nie agtergekom het nie, maar vandag sit daar mense aan die hoof van die sinode wat skynbaar ander agendas het, as die blote verkondiging van die Evangelie en die versorging van die siekes en weduwees.
Hierdie dwaling is op die spits gedryf deur die onlangse debakel rondom homoseksualiteit. Dit het tot so mate uitgekring dat baie voormalige NG Kerk lidmate hulle nou nie meer met die NG Kerk kan vereenselwig nie en elders 'n heenkome soek. Dit kan ons as die NG Kerk en Christene nie duld nie.
Die Bybel sê tog baie duidelik dat homoseksualiteit sonde is. Voorbeelde hiervan kan onder andere in Lev. 18:22, 20:13, Rom. 1:26-32 en 1 Kor 6:11 gevind word. As die Bybel hom dan duidelik teen homoseksualiteit uitspreek, is dit seker voor die hand liggend dat die NG Kerk as kerk homself ook daarteen moet uitspreek.
Tog doen hy dit nie. Met die Menseregte Kommissie se poging om wetgewing deur te voer wat huwelike tussen mense van dieselfde geslag toelaat is die kerke in Suid-Afirka genooi om insae te lewer. Mens sou dink dat die NG Kerk oor so 'n eenvoudige kwessie, na die Bybel, God se geinspireerde, onfeilbare woord sou kyk, en daarvolgens 'n onomwonde 'NEE' sou sê.
Maar die NG Kerk het nie. Die NG Kerk het die standpunt ingeneem dat mens alle mense se regte in ag moet neem ten einde jou eie regte te beskerm. Hulle stel dus die sekulêre grondwet bo die woord van God as hulle antwoord (al ontken hulle dit). Hulle sê ook dat mens nie so 'n eenvoudige antwoord kan gee nie en dat ons sal moet wag dat hulle 'n antwoord formuleer. Hoekom? Die antwoord is tog nee! Moet mens dit dan van die dakke af skree? Intussen, as gevolg van hierdie slapheid van die Kerk en ander kerkgroepe is die Civil Unions Act deurgevoer en is homoseksuele huwelike nou wettig.
Is julle nie die NG Kerk wat ons geleer het dat alle sonde sonde is in God se oë nie en dat daar nie so iets soos groot en klein sonde is nie? Hoekom kan julle dan nie hierdie sonde in die lig van die Bybel veroordeel nie? Hoekom menseregte bo die Bybel stel? Julle is verkeerd en is besig om julle lidmate op 'n dwaalspoor te lei!
Vir enige leser wat nie die bogenoemde kan of wil glo nie, gaan gerus na die volgende skakels wat op die NG Kerk van Suid-Afrika se amptelike webtuiste gevind kan word. Die skakels is http://www.ngkerk.org.za/persv... en http://www.ngkerk.org.za/persv...
Met hierdie brief wil ons vir die NG Kerk in Suid-Afrika sê dat enige kerk wat vals leer verkondig nie waardig is om enige leer te verkondig nie, dat julle besig is om julle lidmate te vervreem en dat baie reeds ander kerke begin soek het. Julle het 'n plig teenoor julle lidmate om die ware suiwer leer van die Bybel te verkondig en daar is geen plek vir polities-korrekte, selfgesentreerde egoiste in die sinode van die NG Kerk nie.
Ja, julle is verantwoordelik vir die opvoeding van julle lidmate, maar verantwoordbaar aan God! Dit is tyd om tot inkeer te kom en julle lidmate, maar veral God se vergifnis te vra, want dit is teen Hom wat julle sondig.
Ons aanvaar dat geen kerk perfek is nie, maar wanneer jy blatant sondig is dit 'n ander saak en wanneer dit aan jou uitgewys word en jy in jou sonde volhard is dit onverskoonbaar!
Om dinge te vererger het die NG Kerk nou 'n Ope brief, onderteken deur 'n aantal bekendes ontvang, waarin hulle versoek word om openlik homoseksuele leraars op die kansel toe te laat. Die skakel na die artikel word regs van hierdie brief, onder die hoof links ingesluit - gaan lees dit gerus. Die skokkende ding is dat die brief ook deur leraars en ander hooggeplaasdes in die NG Kerk onderteken is en dit lyk asof die ding net veel erger raak en hand uit ruk.
Liewe vriend, as jy voel dat die NG Kerk besig is om op 'n dwaalspoor te gaan en sy lidmate te vervreem is dit tyd om aksie te neem. Dit is ons plig as lidmate om die NG Kerk in liefde op sy dwaling te wys en wie weet, met genoeg druk kan ons ONS kerk dalk dwing om sy weë reg te kry en tot inkeer te kom. As ons dit nie doen nie, sal duisende van ons sonder 'n geestelike tuiste sit en so te sê van voor af moet begin.
Indien jy soos ons voel vra ons jou net twee dinge. Wys jou steun vir hierdie ope brief deur dit te onderteken.
Die ander ding wat ons vra is dat jy vir so veel van jou vriende as moontlik van hierdie webwerf sal vertel, of die skakel stuur per e-pos. Ons wil poog om 10 000 handtekeninge te kry, want dnan sal die NG Kerk moet luister. Moet asseblief nie hierdie poging momentum laat verloor nie, so voeg jou besonderhede by en laat die hele land weet!
Jou vriend in Christus
Die NG Aksiegroep.
Sign the petition
Fields marked * are required.